Inenting teen Covid: ja of nee?

In hierdie baie insiggewende stuk gee Dr. Stephan Joubert duidelikheid oor die waninterpretasie van Openbaring 13 en die sogenaamde “merk van die dier”. Die waninterpretasie deur sommige geestelike leiers en groepe van Openb. 13 skep verwarring en word buite konteks gebruik. Lees gerus hierdie deeglike en netjiese verduideliking, aangesien dit goeie lig op hierdie saak werp.

Geleen: Facebook – Stephan Joubert (e-kerk)

Openbaring 13:16 praat van ‘n merk op mense voorkop en regterhand wat deur ‘n Sataniese dier aangebring word op ryk en arm, klein en groot, slaaf en vry. Skielik is dit baie predikers se gunsteling teks om vir mense te probeer oortuig dat hierdie woorde na “dié entstof teen die Corona virus” verwys. Hoe moet ons dit verstaan?

Wel, dit is lewensbelangrik om by God se merk in die Bybel te begin. Die belangrikste punt wat baie mense mislees, is dat ons as navolgers van die Here Jesus lankal reeds gemerktes is. Ons almal dra die merk van God op ons. Regdeur die Bybel is hierdie waarheid vervleg ‘n goue draad. In gedeeltes soos Efesiërs 1, of in 2 Korintiërs 1 en 5 hoor ons byvoorbeeld dat gelowiges deur die Heilige Gees gemerk of verseël is. Hyself is die waarborg en die versekering van God se kant af dat ons veilig by die ewige fees van God sal aankom.

Dit is ook die Ou Testament se uitgesproke boodskap dat God al sy kinders merk. In Esegiël 9:4 word alle getroues aan die Here in Jerusalem byvoorbeeld op hulle voorkoppe gemerk. In Deuteronomium 6 en 11 word die wet van God ook soos ‘n merkteken op gelowiges se handpalms en voorkoppe aangebring, en in Eksodus 12 word die pasga en die toewyding van eersgeborenes aan God soos ‘n merkteken op Israeliete se voorkoppe en hande beskryf.

In Openbaring 7 en 14 word alle gelowiges gemerk met God se Naam en Christus se Naam op ons almal. Dus dra alle  gelowiges die merkteken van die Here. Hierdie merk is simbolies van God se eienaarskap oor ons lewe. Dit is nie ‘n fisiese merk soos ‘n tatoo of ‘n brandmerk nie.

Openbaring 13 vertel nou dat die Bose hierdie merkteken naboots op ‘n sondige manier. Net soos wat gelowiges deur hulle ganse lewe wys lewe wys hulle is gemerktes van God, wys nie-gelowiges dit deur hulle sondige gedagtes en hulle bose dade. Alle nie-gelowiges is daarom gemerktes van die satan volgens Openbaring 13. Dit is ‘n universele merk. Daarom sê Openbaring 13 baie pertinent dat klein en groot, ryk en arm, slawe en vrymense deur sy bose dier gemerk is, Dit is verseker nie ‘n inspuiting wat ‘n paar mense dalk in 2021 kan kry nie. Of ‘n mikro-skyfie wat net ryk mense in Westerse samelewings sou kon bekostig nie.

Almal op aarde is volgens Openbaring kant en klaar gemerk – God merk Sy mense, en die satan merk sy mense. Daarom hoor ons in Openbaring 14-15 en later ook in Openbaring 19-20 dat almal wat gemerk is deur die satan vir ewig veroordeel word.

Wat intentings teen die Corona virus betref: 

Eerstens maak baie Christene die fout om te praat van “dié antivirus”  asof daar net een antivirus of inenting gaan wees. Dit is tans duidelik dat daar honderde maatskappye, universiteite en regerings is wat antivursse ontwikkel wat verskillend van mekaar is en wat verskillende vlakke van effektiwiteit gaan hê.

Tweedens het nog geen toonaangewende Christen genetikus of erkende medikus ons in die afgelope maande vir gelowiges gewaarsku hierteen nie! Die wêreld se heel grootste genetikus is Francis Collins. Hy is ‘n oortuigde Christen. Hy het nog niks van hierdie aard gesê oor ‘n sogenaamde bose antivirus wat selfs die DNA van mense kan verander nie. Dus is dit bangmaak-stories sonder fut om Openbaring 13 te laat buikspreek agter onsself aan.

Ons moet minder bevrees wees vir Satan en meer bly wees dat ons almal wat voor Christus buig sy gemerktes is. En dat ons name in die boek van die lewe geskryf is terwyl Christus se Naam en sy Vader se Naam op ons voorkoppe geskryf is.

Voordat ons in koue koors uitbreek oor Openbaring 13, moet ons eers Openbaring 14 lees wat vertel ons dra die Merk van God en die Merk van Christus. Dan blaf ons nie soos my hond vir alles wat ons nie verstaan nie.

Groete Stephan Joubert